Dar es-Salaam: Hawe van vrede

 

Dar es-Salaam: wanneer die nag die donkerste is,

net voor die môre, dán roep die muezzin sy gelowiges

omdat hulle slaap

en sy treurige klag vlieg oor wysvingers van minarette,

oor nokke en minnaars en blomme en dokke

en sy treurige klag daag oor die stad

 

die een spreekwoord lui: ‘as ‘n haan snags kraai

en nie wag vir dagbreek nie

moet jy hom dadelik slag want hy bring ongeluk’; maar ‘n tweede sê:

‘dis nie raadsaam om te reageer wanneer jy slegs ‘n enkele keer

in die holplek van die nag geroep word nie’

 

jy kan daardie voël loslaat so dikwels soos die son:

maar hy kom altyd terug

– ek dink aan julle, broers in ballingskap, met net verbittering

as aarde

 

die dag kom grawe’n soet aarde: ‘n see vol skepe en skulpe en koraal,

die skulpe so jonk dat hulle wit is – strande,

en kokospalmbome baie trots en slank met klein-stewige borsies,

piesangplantasies, mangos en papajas;

die stad het skitterende wolke en kraaie traan in die wind,

‘kraak! kraak!’ voorspel die windgepoetsde witborse,

die ander voëls fluit deur die vlerke: om te fluit, so sê die gesegde,

is om die duiwel te roep:

onder waaiers in kantore sit die burokrate

met swere aan die lippe en met vlieë op die hande:

‘om sonder water klere te was bring armoede’

 

– ek dink aan julle, vryheidsvegters, met die skamele kots

van ‘n onverteerde hede,

met wapens en met vrees iewers ver in die vaagtes op die grense –

 

‘as ‘n man jou byt en jy smeer hoendermis aan daardie wond

dan sal sy tande vrot word’

 

met laagwater teen skemeraand kom die Indiërs af na die see

as die maan ‘n bleek skulp is so glinsterend in die frommels

van die niet

waar sterre ook swem –

om te klets, om aan die laagwater en die skemer te ruik

en stiller en kruisbeen te sit

en wanneer dit donker genoeg is ver oor die waters

na ‘n Indië te soek

 

ek dink aan julle, verbanne broers in ons vryheidsbeweging,

ek dink aan julle wat die son probeer volg:

as jy met ‘n vinger na die nuwe maan wys

sal jou vinger ‘n sny kry, maar die vinger

wat die maan uitken is nie die maan nie

en as jy oor die sweertjies aan jou hande soontoe blaas

dan word die máán die vrat

 

ek het gehoor: ‘hy wat ‘n hoender se voete eet sal ‘n swerwer word;’

‘om kaalkop onder die maan te loop verdor die harsings

en so ‘n mens word eendag mal;’

‘’n malman wat gereeld sy maaltye nuttig

sal nooit weer sy verstand herwin nie’

 

Ukichomeka kisu ndani ya ala anaposema mwenye

kigugumizi basi hataweza kuendelea na kusema tena:

‘steek jy ‘n mes in sy skede terwyl die stotteraar nog praat

dan ontneem jy hom al sy spraak’ –

hier is dit reeds nag oor Dar es-Salaam

 

vlam

 

die vlieg kan nie op die leeu se bloed land nie:

die vuur;

die dame se sluier ritsel en verlang:

‘n vlam;

‘n vuur lê dit agter en om die wêreld se lippe,

‘n verskriklike en verblindende vlam

en dan breek dit deur die kreupelhout

kom spleet ieder boom in skaduwee en boom

kom brand die witwurms in die oë dood:

sonopkoms oor Afrika

 

ek sien

nie visioen nie, maar onthullings en herkénninge,

ek soek na hier; ons silwer straler wik oor sy skadu

soos ‘n wyster oor onontsyferde tekentjies tyd,

ons vliegtuig loop oor huise en die Nyl is die sand se slang

en die vuur vat die lug

 

in Khartoem is die wind die bloedhete asem van die woestyn:

‘Above, through a sky terrible in its stainless beauty,’

(vlamme laat geen vlekke nie) ‘and the splendours

of a pitiless blinding glare,’ (waar die oë kyk is géén afdruk)

‘the simoom caresses you like a lion

with a flaming breath…

the very skeletons of mountains… ens.: Sir Richard Burton

 

Generaal Gordon Pasja se verteerde kop vrug op ‘n speer:

grynsblink tande teen die lig gekners,

tande swart van die vuur se aangesig, en die tong is as –

daardie wraak brand skoon –

terwyl die Mahdi se manne

met flikkerende tulbande

klein oor die vlaktes kadawer

suid van hier sit die Kabaka se vroue

vet van biesmelk in hul hutte en braak;

verder suid galop kameelperde sierlik:

die bondels stokke word opgeraap;

en hoog teen die hange van die berg van vuur

waar die grys sneeu begin

lê die koolswarte lyk van die luiperd:

Afrika! so dikwels geplunder, gesuiwer, gebrand!

Afrika staan in die teken van vuur en van vlam…

 

eendeweer

 

ek wil eens weer iets

van daardie roekelose ritme

in die vers vang

die dag toe alles gekantel het

die wind so swart

die son vlieg heen en neer

ou seemeeu se gat!

 

en oor duine-roer-riet

deur die sluier van sand

kom jy op jou perd

die hoewe ‘n hart

na waar waters val

en rotse soos monnike

gehurk

op die hurke hurk

met mal monde vol skuim

 

die oseaan rui

en ruik die ene perd

en sonvoëls val verskrik verstrik

in die maan se hare

en reën straal soos ‘n krans

waar jy en jou perd

deur die golwe breek

 

jy byt die dood blink

tussen die tande

en terwyl iets ineens iewers

glyerig gil

is daar strepe op die skuim

is dit die perd se sye

of die monnikke se longe

wat borrelend bloei van vergeefse verdriet

by aanskoue van die prag

en die spikkels van jou dye?

 

want jy is die lieflikste vrou

op Gods gatswarte aarde

en jy skop die branders se kruine en kreune opsy

en met die hart van jou perd skryf jy

in die blou-mond-nat sand

skryf jy

jy het my lief

en die storm gaan lê toe somber

 

laaste verdieping

 

ek woon in ‘n huis van baie balke

uitnemend geskik vir selfmoord

 

soms speel ek ek is reeds dood

en knoop ‘n gesprek met Vadergod aan

 

maar die tou hou nooit:

nood leer bid