wintervers
daar onder loop die autoroute du Sud (A6)
gonsend vol vragmotors, lorries en kleiner karre
(veelkleurige insekte net na die reën)
en dáár staan modernistiese woonblokke
soos tekens teen die kim
en die dradespel van kragsentrales
en effens hoër spoel daar wolke deur ‘n lug
nader is daar bome aangeplant: kroonden en populier
en is die grasperke bruin besmet van winter
want spatsels sneeu lê nog hier en daar
(die slym van die bees)
en nader nog die stapels houtstutte en hope steen
óm die skelette van ‘n onvoltooide boue –
hier is mens op die ‘mure’ van die stad
sou mens die pad kon vat
en verder as die oog se ryk lê lui die see
en verder as die oor se hoor wieg die berge
ek sit in ‘n leunstoel voor die venster
en rook my pyp en hou dit alles dop
met op my knieë die ‘Pays de Neige’ van Jasoenari Kawabata
-ek lees nou juis van die afskeid by die stasie
terwyl kraaie kras: bodes van die laaste sterwe –
en ek kras notas van my laste en my bates
(ek staan op die stasie maar die fluitjie wil nie blasie)
en verwonder my so óór die wonder van my doodgang
beskrywing
(vir Sole M. Ate)
die venster is nie ‘n wond nie
buitekant:
bome, baie bome:
vy, den, plataan, loekwart, reus, kastanje, wind-
riwwerige dakke
en vlugtigrig heuwels met hitttete torings tonge
met tempels met tepels met slagpale
ook stilte en lug en die wit
waterskamerigheid van hitte
‘n son ‘n aasvoël
en dieper strate
waar sjinese hul olifante aan die horings lei
en donkerder inhamme
met kaalkophere
hul tandvleise moestasse
waar hul teen die lig bly staan
om bly met hande vol hamers
teen koperkannetjies te bly kamer
die venster self:
is hoër as breed
is duifgroen vensterrame en -banke
agter bruin horte buite
agter wit gordyne binne
en met geel blommetjies
(die venster is nie ‘n wond nie)
binne dan:
die mure het die sweem van ‘n droom van oranje
die plafon is ver wit, lampkap’n blom groei af
daar is ‘n groen laaikas
met die laaie vol groen
en ‘n klein olifantjie in sy torinkie vlees
‘n lam hangkas bruin van buite en binne
dis waar deftigheid en dasse en motte hang
twee stoele en die een is geel soos van gogh
en die bed is onder haar blougevryde beddoek
‘n altaar
met op die marmervloer rondom
korsterige smeersels vrou-oue bloed
‘n deur
en ‘n ander wêreld
om die vlees onder die knie te kry
daar is niks met ons verkeerd
wat die dood nie reg kan maak nie
die venster is geen wond nie
(Bologna, 13 Julie)
klein matinale raga
waar vlieë is
daar is lewe
al hoe blouer
al hoe heiliger
dit weet mens sedert lankal
die hemel is in die Suide geberg
die Suide is ‘n berg
soos ‘n mishoop so groot
die vlieë is bataljonne engele
en die son
die son is die papawer
wat uit die Suide groei
ek pluk die blom
en neem die staf
met my blou hemp aan
want ek staan
op reis na jou
(Séderon)
as jy dan uit die pers berge ry
(ieder berg met sy skaduwee wit wolkie
op die kop)
dan kom jy baie skielik na
benede op die moerassige vlakte:
ek bedoel, die lug is veel soeter
en dikker hier, en jy mis eers
die yl en ydele verfyning van die Berg
links en regs lê landerye rys,
dan mense-gehuggies,
maar wat opval is die breedvoerige
Dorpies van die Dood
waar dooies in die pap gebrei is
met bo-oor engele en christusse
en ander geestelike versiersuiker in klip
meeste armes leef beter na hul dood
‘Ek het vir die Wurm gesê:
U is my moeder & my suster’
(Blake: Die Paradys se Poorte)
daarom Liefling: ek is gereed
en bid dat jy my mag verorber
mysticism is an infirmity of the mind
daar is iets omtrent die wakkerword van stede in die suide
die hortjies wat oopgegooi word
soos voëls wat teen die môre vlieg
die strate vars en klets al in die lig
en oor balkontralies in binnehowe
waar minnaars laasnag aan mandolienes gepik het
omdat die maan ‘n roos was
leun gesette gades reeds
om die lamwitte lakens uit te hang
(vrede, oorgawe, troos)
– wat help dit nou om agter gordyne te kots
met die bewerige mes van vrees in jou hand?
‘n swaeltjie knip soos ‘n bliksnyer die ruim
oor die bergvesting wat halfpad tussen hemel
en aarde aarsel
en hierdie stad is rooi
maar dis nie bloed nie
maar dis die rooi van die son in mure
en ek sê vir jou
voorwaar die palmbome is televisievoelers vir hulle
daardie dooies van so bitter lank gelede
geledig en bitter soos die dooies maar is
wat in katakombes
na die flikkerseine van swart lig moet lê en kyk
met ewige glimlagte
met die glimlag van alle ewigheid
soos visse in die visbak van ‘n skedel
witmes in die sagte wond
– asemhaling is ‘n verdowingsmiddel –
my god is iewers daar bo
in die wit van die mure van die son
in die lug se ou blou hoed
en sy skaduwee kuier swart soos ‘n ster of so swart
soos ‘n snor
oor die aarde
en ek ken my god
soos ek my eie skaduwee in die donkerste nag
in ‘n bos van skaduwees altyd uit sal ken
om dan nogeens vir oulaas
alles wat jy ken
en waarin jy dáárom leef
bymekaar te roep
opsy en afsonderlik te herroep
en met kusse te noem
soos mens ontmoet en afskeid neem
want netnoumaar lê jy lig in die grond
met ‘n mondjievol geurige stof in die mond
sonder skaduwee sonder koelte sonder sonde of stront
…ek sal ‘n veertjie in my blou hoed steek
en my skaduwee in die arms see toe dra
tot daar waar swami’s met baarde al langer as visse
handeviervoet in die golwe staan
om die liggaam se komme en gane uit te was
en daar sal ek my donkerte op die spieëlstrand lê
sodat hy gesond en blas kan brand
en ek sal my uit oor hom strek
om ver teen die aand
enkeld en sterk genoeg te mag wees
vir die sterwe
en opname in die bron,
in die verskietende ster van sterwe
die heiden in die heining
die lug is toe eers opgehang aan die galg van die son
tot hy blou was
maar in die nag is die Blouding met swart besmeer
en het net die dood nog in hom bly hang
soos die maan in die droom
ek is nie profeet nie
ek is ‘n dinges
en so privaat
dat ek nie meer bestaan
(want die twyfel is dààr)
maar as die sterre in die lyk net gaatjies is
waardeur die lig van ‘n onsterflike dag val
en as die vlees wat nag is
gestadig voos word?
dat mens by daardie vlamme kan sien
hoe ruiters met bloed gedoop oor dié berg galop
waar sìèners onderstebo gekruisig wag
om beendroog te word
met hulle koppe pers en swaar eksotiese piesangblomme
en al die baie voëls soos piesangs aan die stronk
om sterre aan die hemel te pik?
dan moet jy jou verskans
in jou hart van ink
in ‘n vensterlose stanza
van wagkamers vir derdeklas pawasiers omring
en sonder enige geriewe
en jou jare opgaar
want uit die baie dooie gisters
moet jy die voedsel put
wat jou inkhart sal laat baar
of bloei
en alle vleis is goed:
selfs die mensekop is eetbaar
as jy hom maar omdraai en aan die ore
béét kan pak
om van agter af die tande in die harsings te sink
want van voor lyk hy darem te veel
na ‘n sensitiewe dier
lyk hy hopeloos te veel soos ‘n lyk
van alles moet jy afgesonder kan leef –
selfs die nederigste vlieg
word ‘n aantyging en buitesmart
en sy gezoem vertel van wonde in die lug
want as jy die blou siel uit jou trek
en hom in die buite neerlê
om heldersiende te word,
word hy donker, krul om en sterf
soos ‘n seester op die strand
en sien jy word helder
soos ‘n maan in die blou
sê dan:
‘ek sou so onsterflik wou wees soos ‘n hond
wat die hond in alle honde is
onsterflik is tussen nêrens en die niet
en ek draai my pens na die son
en vergeef julle al die leed my aangedoen
tot in die verdoemenis in…
‘hierdie drol wat stoomwit uit my blom
is ‘n openbaring, ja
maar tog ook net die ysberg se spits’
siende ek tog nou in Rome i
en dat die dag blou oopgevlek lê
het ek gevra of ek God mag spreek
oor die nietige aangeleentheid
van die humane kondisie
maar hy was nie te sien nie
was glo in die badkamer
miskien om die bloed van sy hande te was
of dalk somaar op die verleentheid
in die enigste goddellike posisie
Drang nach Tod, en my tong is slang
ja, toe sien ek hoe die waters van lewe alles oorstroom
– en ek so sonder swem –
ja, daarom het ek van verse vir my ‘n paal gesny
om hoog en droog die lewe te oorleef
Bruidjie Breytenbach aap op die paal
sy kop is stukkend sy wurms is kaal
maar nou gaan ek boonop
uit die perke van hierdie paal vir my’n boot haal
om oor te mag roei
boontoe na waar maan se droewe oewer vloei