Je s’use
Vredesverdrag? Wapenstilstand? Denkstilstand? Droomstilstand? Droom is die sterf van die werklike. Wakker is droomstilstand. Bewustelik tot uiting bring is die ophef (verwoesting?) van ‘n niemandsland. Droom is niemandsland. Vrede is niemandsland. Lewe is andermansland. Om anoniem te droom in niemandsland. Die droom anoniem. Die onnodige loopgraaf. Lewe die loopgraaf na dood. Agter die skanse van droom. Die fort van droom. Onaantastbaar in droom. ‘Onrein! Onrein!’ Droom is ‘n wit vlag en ‘n bel. Oorgawe: die beloning is niemandsland. ‘n Niemandsland vol loopgrawe. Loopgrawe vol drome. Dood is eiemansland. Eiland en andermansland. Lewe en andermansland.
Waar ek is, daar is my asem. Die gewaarwording kan nie gespleet word nie. (Maar is die gees ‘n spleet?) Jy is ‘n stil onverstaanbare dier wat jouself bekruip en om die lewe sal bring. As jy jouself sien staan al jou hare orent van ‘n primordiale vrees. Jy het die aas van jou asem gesluk. Gevang in die mik van die gees.
Nou wéét jy dis net kruiperige woorde, glad en blink om byval te vind – maar agressief, verbitterd en op pad na hulle eie bestemming. Die woorde kyk oor hul skouers na jou en jy weet nie of hulle flikflooi of dreig nie. Die verband is van jou hande gewikkel en die woorde puil en peul dáár. Woorde is van die nag. Woorde dra donker mantels as vermomming en die weefstof daarvan is nag. Onder nag se kamoeflage is woorde net gebeentes; aan die beendere kleef af en toe nog klosse melaatsagtige vlees, grys van kleur en nat soos snot. Woorde is insekte. Woorde is parasiete wat leef in die wond van belewenis. Belewenis bloei nie van binne uit. Belewenis is die bloed wat deur die snit sypel; dis nie die mes wat die snit gemaak het nie. Woorde is belewenis. (En taal die sin-tuig…) Woorde vermoor die sin. Woorde is die – op sig en an sich – onbewuste en niemenslike en onbegrypbare en abstrakte etter van die bewuste. ‘n Man wat praat is ‘n besmette man.
Woorde is siektesimptome. ‘n Man wat leef, kommunikeer. Daarom is lewe ‘n aansteeklike en dodelike siekte. Die man wat kommunikasie soek of veroorsaak is verlore en op soek na homself. (Wanneer jy so-iemand op die lyf loopt, maak hom dan dadelik dood. Want alle kommunikasie is kontaminasie.) As jy jouself vind is jy dood. Nirwana is die volkome vreugde van dood-wees.
Maar: die afgryslike gedagte aan en óm dood is: dat jy dán die dood verloor. En als jy dood is en besef dat dit nie ‘n uitwissing was nie, dat jou bewussyn ge-atomiseer met elke maaier en verteerde molekule die wêreld ingaan – en dán besef dat geen verdere dood (uitwissing) meer moontlik is nie?
Dat ek myself net weer bymekaar kan kry, al die dele van my liggaam, dan sal ek kan sterf. Selfkennis, nirwana, wat dood is, is slegs die onbegonne heel-wees.
Julle wat my gesteel het: gee my terug! Solank ek oor die aarde kruip, in alle rigtings van die wind, ‘n imperialis en ‘n uitbuiter, so lank is ek verdoem tot die lewe, tot die onvolmaaktheid en die verstrooiing en net so lank sal die woorde, daardie mierspioene wat my moet soek en my terug na die miernes van die graf moet sleep, uit my vloei. My soeke is ‘n blinde wit koningin. My dood/my beloning is ‘n diaspora van ballinge oor die wêreld gesaai. Dood is die tuisland van my voorouers.
Fisies sal ek dus nie kan sterf nie. My tuisland is ‘n begrip. As ek my ek tot een enkele begrip kan dwing dan is ek dood. Wanneer ek is en weet ek is, ek syn-is, dan is ek dood.
Die ideaal is om ‘n zombie te wees, ‘n droomwandelaar; die vuur wat gees is geblus; die ruimte wat pyn is, geskroei.
En kyk dan uit! Never shit in a shade!
Die vlam aan die mond
‘In Germany in the Twenties, Haarmann, a butcher by trade, drained his victims with the twofold practical purpose o f selling white meat and black pudding.’
Wanneer ek die dag selfmoord begaan sal ek iewers ‘n aandpak moet leen sodat ek paslik geklee vir die situasie mag wees. Ek sal ‘n borshemp dra, met kant omwerk aan die voorkant, en ‘n strikdassie – van daardie wat jy self moet knoop, nie die aanknipsoort nie. My skoene sal swart wees, van blinkleer en gepoets, en my kouse liggeel van kleur. Ek sou my hare die dag self nog laat knip het vir die eerste keer sedert jare en my snorbaard sal ek met reukwater bestryk het. Ek sal een van die houtlepeltjies wat jy by roomysbakkies kry in kruisementwater doop en dié dan in my mond op die tong lê: dit hou die asem vars en sorg daarvoor dat die tong nie ingesluk word nie. (O, dit sal so ‘n belangrike geleentheid wees!)
Ek sal op ‘n deftige stoel klim (my nuwe skoene sal nog effens kraak) en ‘n koord van fluweel, ‘n belkoord, om my hals rangskik. Dan sal ek my oë vir oulaas sluit om die heuwels in die donkerte te sien, en sê: ‘die honde jaag vir Hannes deur die varsgeploegde tamatieland!’ en my van die stoel af in die ruimte werp. Ek hoop ek sal glimlag ondanks die kruisementgegeurde houtlepeltjie in my mond.
Na ‘n pose sal die kelner sy opwagting maak met ‘n skinkbord. Hy sal vra: ‘het meneer gebel?’ en dan sal sy gedagtes verdwaal en sy oë sal daardie verre blik kry en versonke in sy drome sal by die glasie drank omkeer oor my nog effens rillende kouse en skoene. Dit sal ‘n vodka met tamatiesap wees, ‘n Bloody Mary, sodat dit sal lyk asof ek in die bloed gewaad het. Ek loop hoeka al jare lank tot by my enkels in die nare aaklige bloed.